MOMSOMNIA
Die meeste ouers praat nie daaroor nie, maar tot 40% van nuwe ma’s ly aan ‘mammasomnie’. Willemien Brümmer bieg selfs pille wat ’n middelslagmerrie sou uitknikker, is nie genoeg om haar deur die nag te laat slaap nie.
Momsomnia
'Hoekom het hulle nooit vir my gesê ma’s slaap nie?'
Die meeste ouers praat nie daaroor nie, maar tot 40% van nuwe ma’s ly aan ‘mammasomnie’. Willemien Brümmer bieg selfs pille wat ’n middelslagmerrie sou uitknikker, is nie genoeg om haar deur die nag te laat slaap nie.
’n Maand of twee ná sy eerste verjaardag, min of meer toe hy begin loop, het daar skielik snags ’n rustigheid oor Matthias neergedaal. Die slaap bly sy ma egter steeds ontwyk.
Die meeste ouers glo as hul baba eers deur die nag begin slaap, is dit die wederkoms.
Dit is soos ’n nuwe hemel wat kom, ’n aarde nuut en vry van die ewige nagskof wanneer jy tussen 02:00 en 04:00 met ’n huilende pienkvoet in jou arms op die verlossing van die daeraad wag.
Toe Matthias nie wou slaap nie, het ons met hom op en af in die gang gestap, heen en weer in die hangstoel gewieg, op ’n pilatesbal gewip en hom soos ’n kameel met knak-knieë in ons arms gesus.
Jy’t aangehou tot die ogies toeval, en dan nóg ’n bietjie om doodseker te maak, en hom dan saggies met ’n seer rug in die kot neergelê – net sodat hy minute later, ogies wyd oop, weer pennetjie orent in sy kot sou staan.
’n Maand of twee ná sy eerste verjaardag, min of meer toe hy begin loop, het daar skielik snags ’n rustigheid oor hom neergedaal. Eers wou ons dit nie glo nie. Ek was nie meer ’n lid van die susterbond wat met rooi oë kon stories vergelyk oor ure geslaap en die trae gekla soos ’n kar wat aan die gang gestoot word elke keer as jy jou oë toemaak nie.
MY LYF SE AFSKAKELKNOPPIE HET VERDWYN. AS EK DRIE OF VIER URE GESLAAP HET, DINK EK DIS OPSTAANTYD.
Noudat Matthias 15 maande oud is, slaap hy steeds nie elke nag deur nie, maar die pilatesbal staan verlate in die hoek en daar’s ’n vreemde stilte in die huis. Ons kan weer saans rustig eet, TV kyk, lees en net wéés . . .
Wat min nuwe ma’s egter weet, is dat hierdie nuwe vrede nie noodwendig beteken jý gaan slaap nie.
Ek kan dit seker maar ruiterlik erken: Selfs pille wat ’n middelslagmerrie sal uitknikker, is nie genoeg om my vir ’n nag lank te laat slaap nie.
Soos Shakespeare gesê het: “O sleep, O gentle sleep, Nature’s soft nurse, how have I frightened thee…”
Ek weet hoe dit voel om ’n hele nag lank na die sagte asemhaling van my kind te luister, om verlig te wees wanneer hy wakker word net sodat dit my malende gedagtegang kan onderbreek en die klein ure van die nag nie so eensaam is nie.
My lyf se afskakelknoppie het verdwyn. As ek drie of vier ure geslaap het, dink ek dis opstaantyd. Dan kan ek maar skape tel, asemhalingsoefeninge doen of nóg ’n pil drink – dit is alles te vergeefs. Ek’s anderkant droomland op ’n eiland van angs soos in ’n gogga-maak-vir-baba-bang-fliek uit Hollywood se B-stal.
Die goeie nuus is: Ek’s nie alleen nie. Dr. Bavi Vythilingum, ’n Kaapse psigiater wat spesialiseer in vroue en nageboortelike afwykings, sê tot 40% van alle ma’s van babas ly aan “mammasomnie”, of slapeloosheid.
“Sommige gevalle begin al tydens swangerskap, die meeste begin in die eerste ses weke ná geboorte, maar dit kan enige tyd begin en hou meestal aan totdat jou peuter ongeveer twee jaar oud is.” Soos skofwerkers
In haar gerieflike huis in ’n deftige Kaapse voorstad met drie kwetterende kinders in die agtergrond, vertel sy haar oudste, Sanjan (12), het eers begin slaap nadat hy twee jaar oud was.
Haar jongste, Kamran (6), het eers op vier en ’n half jaar begin slaap.
Sy’s egter steeds ’n lid van die geheime klub van slapeloses oor wie Leonard Cohen geskryf het: “The last refuge of the insomniac is a sense of superiority to the sleeping world.”
Dr.Bavi Vythilingum, ’n ma van drie en ’n psigiater wat spesialiseer in nageboortelike afwykings.
“Ek slaap steeds verskriklik sleg,” sê dié vrou wat honderde ander al gehelp het om beter te slaap. “As ek nie ’n slaappil gedrink het nie, het ek tot baie onlangs nie geslaap nie. Dit het begin sedert ek die kinders gehad het. Voor dit kon ek slaap,” vertel sy.
Die oorsake is legio.
“Die mees algemene rede vir dié insomnie is die voortgesette gebroke en onreëlmatige slaappatrone wat veroorsaak word deur ’n nuwe baba. Dis soos skofwerkers wie se roetine heeltyd verander. Depressie en angs is natuurlik ook ’n groot oorsaak en daar is vroue wat baie sensitief is vir die uitwerking van skommelende hormone voor en ná ’n swangerskap.”
Sy’s self getuie van hoe ’n slaapgebrek jou lewe kan laat verkrummel. “Veral my oudste was ’n baie moeilike baba. Hy’t refluks en koliek gehad en hy sou ure aanmekaar skree. Ek het nooit meer as twee ure aanmekaar geslaap nie en nooit meer as drie of vier ure altesaam per nag nie. Ek moes ná my derde kind my werk by die Groote Schuur-hospitaal bedank, want ek het begin aan die slaap raak tydens saalrondes en ek was ontsettend uitgeput. Alles het net vir my te veel geword.
“Ek kon nie ’n voldag werk met net twee of drie ure slaap in die nag nie. Wanneer ek soggens opgestaan het, het ek my dag beplan volgens wanneer ek ’n uiltjie kon knip.”
Selfs al sluit jy ’n slaaphonger ma alleen in ’n hotelkamer toe, sal sy nie noodwendig die genade van Morfeus ervaar nie.
“Toe ons almal nog in grotte gewoon het, was ’n baba wat nie langs sy ma kon slaap nie ’n dooie baba. Fisiek is ons steeds grotbewoners; ons het nog nie by die moderne wêreld aangepas nie. Sommige mense wat meer angstig is, het die baba by hulle nodig, anders sal hulle opstaan en gaan kyk of alles nog reg is.”
Dis ook nie net ma’s wat aan mammasomnie ly nie. Volgens Vythilingum ly 10 tot 20% van pa’s ook aan slapeloosheid. Die natuur se beloningstelsel is wreed: Hoe meer betrokke dié pa’s by hul kinders is, hoe groter is die kans dat die soete slaap hulle sal ontwyk.
Streng slaaphigiëne
Die groot vraag is of daar ’n oplossing is vir mamma- en pappasomnie?
Veral vir ma’s wat snags alleen die babaskof doen, is die behandeling van slapeloosheid nie eenvoudig nie.
“Die belangrikste is slaaphigiëne,” sê Vythilingum. “So ver as wat jy kan, moet jy probeer om op ’n sekere tyd elke oggend op te staan en op ’n sekere tyd te gaan slaap. Dagslapies moet beperk word tot onder 20 minute en jy mag nie ná 15:00 slaap nie. Dikwels is die raad vir ma’s dat hulle moet slaap wanneer die baba slaap, maar vir sommige ma’s skep dit ’n ander slaaproetine en dan is hulle heelaand wakker.”
VIR OMTRENT 60% VAN VROUE WORD DIT DAARNA BETER. JY BEGIN BASIES SLAAP WANNEER JOU KINDERS BEGIN SLAAP.
As ma’s by haar kom raad vra oor slaap, probeer sy gewoonlik dadelik uitvind of hulle depressief of angstig is. Sy probeer ook vasstel of daar tydens swangerskap dalk ’n fisieke oorslaap is vir die slaapgebrek. “As hulle eers die baba gehad het, kyk jy of daar enigiets is wat jy kan doen om hul omgewing te verander sodat hulle beter slaap. As daar niks meer is wat jy kan doen nie, kan jy ’n klein dosis medikasie voorskryf. Die probleem is jy wil hê die ma’s moet slaap, maar hulle moenie te diep slaap nie. Selfs as jou baba deur die nag slaap, moet jy steeds wakker genoeg wees dat as hy huil, jy hom kan gaan troos.”
Wat belangrik is, is dat ouers nie in stilte ly nie. “As jy depressief of angstig word of bloot voel asof jy nie die mas opkom nie, of as jy so vaak is deur die dag dat jy sukkel met gewone dagtake, dan moet dit dringend behandel word,” sê Vythilingum.
Gelukkig bly kinders nie vir altyd in doeke en aan die moederbors vasgesweis nie. “Die meeste vroue ly omtrent twee jaar lank aan mammasomnie.
Vir omtrent 60% van vroue word dit daarna beter. Jy begin basies slaap wanneer jou kinders begin slaap en teen die tyd dat die kind twee jaar oud is, het die meeste ma’s opgehou borsvoed.”
Sommige ouers moet hul liggame egter letterlik “heroplei” om weer te slaap.
Ek wag nog op die blye dag wanneer ek nie meer ’n pienk of ’n blou pilletjie hoef te drink om in te sluimer en aan die slaap te bly nie. Dan eers sal ek glo in die wederkoms en in ’n nuwe hemel wat kom.
Of dalk moet ek daarmee vrede maak dat sommige ma’s nooit weer slaap nie.